
Ek was baie bevoorreg om as kind op ‘n plaas groot te word. My tuisdorp was Groblersdal in Mpumalanga.
My skooldae was vir my baie lekker en ek wou ‘n juffrou wees vandat ek kon onthou. My Laerskooldae was ek in ‘n klein plaasskooltjie wat nou nie meer bestaan nie. Ek het ‘n goeie grondslag daar gekry en onthou baie goeie tye van daardie era in my lewe.
Na Laerskool is ek na die Hoërskool Ben Viljoen en moes toe in die koshuis gaan bly. Afgesien van die frikadelle wat in koolblare toegedraai was elke Woensdag, was dit die beste tyd van my lewe!
Na skool, het ek by Tukkies gaan onderwys studeer. Die lewe in ‘n groot stad soos Pretoria was vir my ‘n groot uitdaging. Ek kon nie wag om naweke plaas toe te gaan nie! My ma se lekker kos en my pa het altyd vir ons gaan wys waaraan hy die week op die plaas gewerk het. Daardie tyd wou ek sommer die onderwys los en Landbou gaan studeer maar my pa het voorgestel dat ek liewer met ‘n boer moet trou, wat toe nie gebeur het nie. Nee, ek trou toe met ‘n kunstenaar wat ook ‘n onderwys was en later ‘n Opvoedkundige Sielkundge geword het. Ons het drie pragtige kinders groot gemaak. Ek het 39 jaar se onderwys ondervinding en het skoolgehou van onopleibare kinders tot matrieks! Vir 26 jaar was ek die Departementshoof van die Grondslagfase by Laerskool Impala. Ek het met ‘n swaar hart daar afgetree en het vir ‘n jaar nie gewerk nie. Ek het baie reisplanne gehad maar met covid moes ek by die huis bly.
Alhoewel ek my huis en tuin baie geniet, het ek die geleentheid aangegryp om by Future Wings te kom uithelp vir drie dae per week. Na ‘n paar maande is ek die pos as Sentrum Bestuurder aangebied en ek het dit met vreugde in my hart aanvaar.
Ek hoop en glo dat ek ‘n verskil kan maak in die lewens van hierdie kinders vir wie ek ‘n passie het.